Bea-hann en Franchesca Brummer troue, De Uijlenes, Franskraal

Een ding waarvan Franchesca nooit beskuldig kan word nie, is dat sy geen detail aan toeval oorgelaat het met die beplanning van haar troue nie! Elke titseltjie van hierdie troue was goed deurdink en baie goed en prakties beplan. En vir meeste van die gaste was dit nie sommer net nog ‘n troue nie – dit was ‘n bruilof (soos die ouer mense van gepraat het) wat die Vrydag al begin het en Sondag na ontbyt eers klaargemaak het!

Vrydagaand is daar gebraai en gekuier tot laatnag, en Saterdag vroeg was die gaste weer aan die gang. Party het na die omliggende dorpe toe gery vir ontbyt en/of om te kyk hoe swak die Stormers speel!

Tydlyn vir die groot dag

Intussen is ‘n paar afgevaardigdes na die area in die bos waar die seremonie sou plaasvind om dit reg te kry vir die middag. Die manne se klere, en geskenke en drinkgoed en sigare, is uitgepak waar hulle later sou moes verklee. Pa Graham, bekend as Superman onder sy twee dogters, het selfs Superman sokkies en “cufflinks” gekry!

Preekstoel in die woud
Ingang na die area waar seremonie later sou plaasvind
Ruikers bokant “arch”
Skoenlapper op lantern by trou-venue

Na middagete het almal begin skarrel om betyds te wees vir die “I do” wat in die woud daar naby sou plaasvind. Bea-hann en die gaste het geduldig gewag vir die bruid en haar gevolg om op te daag. Hulle was so “bietjie” laat, want toe kom hulle agter die ringe het by hulle aantrekplek agter gebly. Uiteindelik het Franchesca en haar gevolg opgedaag, en die wag was absoluut die moeite werd want sy het so pragtig gelyk. Arme Bea-hann se asem was skoon weggeslaan en hy was ietwat bewoĆ«. Oom Sakkie Visser, ‘n familie-vriend wat die boodskap sou bring, moes hom eers ‘n paar sekondes gee om sy asem weer terug te kry.

Nadat die boodskap gelewer is en die bevestiging afgehandel is, het die gaste hulle ingewag om hulle met roosblare te bestrooi, en is hulle weg om foto’s te laat neem. Die gaste het verder onder die bome gekuier met allerhande heerlike versnaperings en drankies.

Skuins voor 6 het die gaste na die pragtig opgemaakte saal beweeg en hulle plekke ingeneem in afwagting van die aand se verrigtinge! Die oomblik het eindelik aangebreek vir Mnr en Mev Brummer om hulle by die gaste aan te sluit, en Bea-hann het behoorlik met ‘n huppel in sy stap en sy bruid aan sy sy die saal binnegekom. Die twee het sommer reguit na die koek toe gestap en dit gesny voordat hulle by hulle besondere bruidstafel gaan plek inneem het.

Waar sit jy?
Troukoek
Pragtige Bruidstafel
Tafels keurig gedek, met ligte wat uit die dak hang
Gesnyde hout naambordjie vir elke gas, met geborduurde servette

Hierna is ‘n klompie heildronke ingestel, en swaer Louis, wat op die dag verjaar het, is ook geluk gewens. Met daardie formaliteite agter die rug is ‘n heerlike aandete bedien, en toe was dit tyd vir die bruidspaar om die dansbaan te open. Hulle het Ed Sheeran se pragtige “Perfect” gekies hiervoor, en dit was werklik ‘n perfekte keuse! Om die dans-formaliteite af te handel het Bea-hann met sy ma, en Franchesca met haar pa, gedans op die besondere “I Loved her first” van Heartland. Die res van die gaste het aangesluit, en is daar sommer net lekker gedans totdat dit tyd was vir die gooi van die ruiker en die garter, en natuurlik Bea-hann se toespraak!

Een van die versoeke wat Franchesca vooraf vir my gegee het was Samsara, en haar ma Carin moes betyds gewaarsku word voor dit gaan speel sodat sy kon saamdans.

Halftwaalf die aand is “midnight snacks” bedien, en toe het die dansery bietjie stiller geraak. Maar halfeen het die gees almal weer gevang en is daar heerlik op die verhoog gedans tot twee-uur die nag toe die klank finaal moes af wees.

Bea-hann en Franchesca – dit was vir ons ‘n wonderlike voorreg om deel te kon wees van hierdie spesiale geleentheid. Baie dankie dat ons kon deel wees daarvan, en ons wens julle net geluk en voorspoed toe op julle reis deur julle huwelik.

Die bankie waarop hulle in 2004 gevry het, en Bea-hann hulle voorletters op uitgekerf het: B love F 2004
DJ Gert saam met Bea-hann en Franchesca

1 Comment

  1. Dankie Gert vir die mooi uiteensetting. Dit was voorwaar n amazing troue.

    Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *