Phillip en Inge Nel troue, Mont Rouge, Tulbagh

C. Louis Leipoldt het gesê Oktober is die mooiste maand, maar ek het Mont Rouge nog nooit so mooi gesien soos tydens hierdie troue aan die begin van November nie – miskien het dit maar net oorgeloop van Oktober af!

Inge Rix en Phillip Nel het besluit om hier te trou, en onder die bekwame leiding van Inge se troubeplanner/vriendin/strooimeisie Stephanie het hulle ‘n troue gehad wat so mooi was soos die omgewing waarin dit gehou is.

Nagenoeg 120 gaste het by die pragtige driffie gesit en wag vir Inge om op te daag, terwyl Phillip senuweeagtig saam met sy strooijonkers rondgestaan en wag het.

Eindelik het Inge en haar gevolg opgedaag en ingestap op “Darling” van Majozi.  Inge was beeldskoon getooi – soveel so dat Phillip ‘n paar trane moes wegpink!  Inge moes self ‘n paar keer diep asemhaal voordat Pastoor Dave Basson van die Kingdom Light Church kon begin om sy ernstige boodskap in ‘n baie ligte luim oorgedra het.

Nadat die tweetjies wettig getroud verklaar is het hulle die huweliksregister in die saal gaan teken, en die gaste het ‘n erewag gevorm van die saal se uitgang af na die lapa om hulle met roosblare te bestrooi.

By die lapa is ‘n heerlike broodtafel as canapés bedien, en allerhande interessante drankies en ook draai-roomyse is voorgesit. Fotograaf Liesl Basson en haar assistent het foto’s van die bruidspaar saam met hulle gaste geneem op die grasperk rondom die lapa totdat die bruidspaar saam met Liesl weg is vir hulle fotosessie tydens die “goue uur” van lig net voor sonsondergang.

Die gaste het op hulle eie tyd na die saal begin beweeg om hulle plekke daar in te neem, en om solank gesellig te raak in afwagting van die nuwe egpaar se aankoms by die saal.

Die pasgetroude Mnr en Mev Nel het die onthaalsaal binnegestap op die klanke van Silver Pozzoli se “Around my dream”, en onder luide toejuiging van die gaste.

Na die tafelgebed in Duits deur oom Boetie Rix, het die bruidspaar van tafel na tafel beweeg vir foto’s saam met die gaste, waarna die gaste hulself aan die heerlike buffet van hoender, beesstert, rys, aartappels, groente en slaai kon gaan help.

Na ete is die heildronke ingestel, waarna Phillip sy bedankings gedoen het.  Sy maters het hom nie baie kans gegee om iets te sê nie, en hy is deurlopend in sy gesig gespuit met “string foam” wat hy gereeld moes afvee om net ‘n paar woorde te kon uitkry.

Hierna is die koek gesny, wat later as nagereg bedien is saam met roomys, en ‘n lekkergoed-tafel wat behoorlik gekreun het onder al die lekkers.

Eindelik het die bruidspaar die dansbaan geopen op “How Long Will I Love You” van Ben Coleman, Jon Bowden en Sam Sweeney, en hierna het die dans voluit begin. ‘n Ruk later het Inge met haar pa en Phillip met sy ma gedans op Tom Jones se “Green Green Grass of Home”.  Die laaste formaliteit was die gooi van die ruiker en die garter, en die twee wat dit gevang het het hulle vaardigheid op die dansbaan gewys met “Radio Dancing” van Engelbert Humperdinck.

Inge het vooraf vir my twee lang lyste liedjies gestuur – die eerste lysie was songs wat voor 11 gespeel moes word, en die ander na 11.  Op die kol 11uur is daar oorgeskakel na die hoogste rat met (hoofsaaklik) Inge en Phillip se keuse van musiek, en toe was die dansbaan behoorlik aan die brand met die jongklomp wat nie wou ophou dans nie.

Verrigtinge is, onder groot protes van sommige gaste, rondom halfeen gestaak, en daar is ‘n klompie moeë lywe daar weg.

Inge en Phillip, ons wens julle alle sterkte toe op julle pad saam vorentoe – mag julle toekoms saam altyd so mooi wees soos julle troudag.

YouTube Playlist

2 Comments

  1. DJ Gert jy was ongelooflik!! Die musiek, klank, ligte alles was fantasties! Oom was deel dat ons dag so ‘n groot sukses was. Die mense wou beslis nie ophou dans nie. 🙂 En dan nog ‘n groot dankie vir die videos wat oom tussen in geneem het. Ons sal Oom oor en oor aan mense aanbeveel! Dankie vir alles, ons sal ewig dankbaar wees.

    Reply
    • Net n plesier gewees … altyd lekker om te speel vir mense wat wíl party!

      Reply

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *