Pierre en Charis se troue was my 11de by Mont Rouge, en ek het hierdie venue nog nooit so mooi getooi gesien nie. Die proteas oraloor was regtig iets besonders gewees.



Almal se asems was behoorlik weggeslaan toe Charis se pa haar in haar besonderse rok by die seremonie aan Pierre oorhandig het. Ds Kolette Louw het die diens pragtig gelei waarna die twee die register in die saal gaan teken het.
Die gaste het met hulle uitstap die bruidspaar behoorlik geseën met seepborrels, en hierna het almal by die lapa canapes en drankies geniet terwyl ‘n Marimba-orkes gesorg het vir heerlike agtergrondmusiek.


Nadat daar lekker buite gekuier is het die gaste na die saal beweeg en is behoorlik verwelkom in die saal wat pragtig opgemaak was deur die bruidspaar se moeders.


Die pasgetroudes het ‘n rukkie later by die saal aangekom en is hartlik verwelkom deur die gaste. Hulle het sommer dadelik die troukoek gesny, en direk daarna is die heildronke en bedankings afgehandel.
Na ‘n fantastiese ete het Charis en Pierre die dansbaan geopen, gevolg deur danse van die bruidspaar met hulle ouers. Die gaste het vir ‘n ruk saam gedans, en toe was dit eers tyd vir die gooi van die ruiker en die kousband.
Hierna het die dans in volle swang voortgegaan en daar is gedans en gesing tot skuins na twaalf.
Pierre en Charis, dit was regtig vir my ‘n voorreg om by julle troue te kon optree. Baie dankie, en ek wens julle alle geluk en voorspoed toe op julle pad vorentoe. En Pierre, hou daardie stoute glimlag in jou oë – net soos pa Theo!
What people say