Wally en Griet Horak troue, Die Blomstoor, Kleinmond

Op Wally (of De Waal soos party mense hom noem) se sestigste verjaardag het hy en sy droomvrou Griet (of Grietjie) van 43 jaar gelede uiteindelik die knoop deurgehaak by een van die pragtigste trou-venues wat mens aan kan dink.

Die geleentheid was behoorlik ‘n “joyful celebration” soos Griet dit in haar eerste epos aan my beskryf het.  Die weer het saamgespeel en dit was sommer lekker warm vir hierdie tyd van die jaar, die bruid was pragtig uitgevat, die gaste was in ‘n goeie luim, en Ds Steven Sass het met sy pittige sêgoed almal behoorlik tuis laat voel.

Nadat die formaliteite afgehandel is en die bruidspaar met roosblare ge-konfetti is, het die gaste buite op die stoep en grasperk heerlike happies geëet en drankies gedrink.  Die sjampanje het gevloei asof daar nie ‘n einde aan die voorraad was nie.

Skuins voor 7 het die gaste na die eetsaal beweeg waar Griet en Wally toesprake gemaak en heildronke ingestel het voordat die uitstekende hoofgereg bedien is.  Daar is sommer heerlik gekuier aan die tafels, en dit was ‘n behoorlike gesukkel om die gaste te kry om na die dansarea te gaan om die bruidspaar op die dansbaan te verwelkom vir hulle openingsdans.  Wally het “Wine, Woman and Song” van Johann Strauss gekies vir die openingsdans, en toe het die dansery in alle erns begin.  Van die gaste het verder in die eetsaal gekuier terwyl die ander rondom die dansbaan, by die kroeg en buite verder gekuier het.

Dankie Wally en Griet dat ons deel van julle “joyful celebration” kon wees – ek hoop werklik julle het genoeg geleentheid om die verlore 43 jaar in te haal!

Submit a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *